uit
die oggend mis van ‘n gryse verlede
kom daar ‘n geween van mense van mense
‘n getap van hotnotsnot en trane,
voer aan ‘n ontspannings-vraatsug,
ont-land en ont-tong as onding gedwing
en verdoof met verwronge geloof,
verkondig deur besigheidspriesters
met ‘n smaak vir land en liefde
vir die evangelie van rasisme,
verlam met beste wense, leë kliere
en droeë krane, verwoes met buskruit,
die gekringloop het tot stilstand gekom,
die wereld is omhein en onheilig
die lippe van seisoene blom van dors
diepe verlange brand van die honger
die korhaan se lewenslyn dui rigting aan,
vervalle volke weerkaats in vlakwaters
van gif-poele en borrelende wolke
leeg van water, landsmense ontneem, dros
en wentel in kampkassies, omring
met skerp draad en gruwel daad,
in tronk en kerk gekonsentreer
met geweld van opvoeding, gekonfronteer
nood trek strop om ‘n bottelnek
op aandag en gewillig op die uitbuit
van lewenskrag vir die belofte van kos
en gerief vir altyd op ‘n ander dag
dis aan die hand van ‘n god
wat hulle sterf vir liefde,
sonder kus wat hulle sterf met liefde,
in die mis van ‘n oop graf wat huil
sonder om ‘n traan te kan stort
!gda
Wednesday, 1 March 2017
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment