Thursday, 22 December 2016

ghoema van'ie kaap

die ghoema van’ie kaap
pols met’ie stoccato van’ie slaaf se hart
tap van’ie boesman se stap
en trap wat’ie khoikhoi rap

sy struggles, sy lied
sy lief- en heimweë sus

kaaps, die slang in die gras
perk van opvoeding gepik
taal standard anti-gif beprik
sin verleng, ‘n bedeling beding
vir die besing van bedoeling
in aangesig van gebrek en gebrekkigheid
plus vyf-laastrek, for history’s sake
make no mistake, dis 'n bedwelling

die blikkie se boem is yt
platneusvokaal uitgesnuit
hoor hoe lekke slarrie ghoema
pols met’ie stocatto van’ie slaaf se hart
tap van’ie boesman se stap
trap wat’ie khoikhoi rap

sy struggles, sy lied
sy lief- en heimweë

sy moedertaal is vreemd
in die moederland
is moederstong gesny
van moedersdenke
moedersmond van goud ontvul
keel met klip van vaderland bevul
onder bedenkinge beset en besteel
en van landskap verstom

gereg en geregtigheid slaafs
deur koningskind bepaal
en met bloed en vet betaal
die strop is getrek
die tou lank genoeg
slaan die drom, dis tyd
kom ons dans in die sirkel van verbeelding
!gda

No comments:

Post a Comment